2019: Johan en Sarah op pad VS toe

Terug na HOME PAGE

Travalia:

Ons het ons oorslaapplekke met sorg gekies - die afstande moes ver genoeg uitmekaar wees, maar ook in 'n omgewing wees waar daar iets is om te ervaar. Tyd was 'n faktor en die reisspyskaart moes aan daardie vereiste voldoen. Ons het al verskeie kere by Travalia aangedoen, maar nog nooit oorgeslaap nie. Hier is die mooiste geskenkwinkel, met unieke geskenke wat jy nie in elke dorp kry nie. Dus google ons gou hierdie slaapplek en word die volgende wys:

Beskrywing:

Travalia Guest Farm bied oornagverblyf teen die N1 in Drie Susters naby Beaufort-Wes, Victoria-Wes, Murraysburg en Richmond.

Daar is 26 ruim kamers en elke kamer het lugversorging, 'n privaat badkamer en braaigeriewe. Daar is ook 'n swembad en 'n speelpark. Die plaas het skape en beeste, asook wild soos koedoes, springbokke, blesbokke en ander kleiner bokke. Dis rolstoelvriendelik.

Travalia Guest Farm bied braaipakke met Karoo-lamtjops en wors of tradisionele lamsvleis en hoenderpastei. Braaibroodjies is ook beskikbaar en hout word voorsien. Maaltye word teen ekstra koste gereël. Travalia Guest Farm het 'n dranklisensie en koeldrank, bier en wyn is by die hoofontvangsarea beskikbaar. Ontbyt en ander plaasprodukte is by die plaaswinkel te koop.

Gevolgtrekking:

Travalia bied dit en nog baie meer aan. Kamers is ruimer as ruim. Die personeel loop die ekstra myl met 'n glimlag op hul gesig en 'n lied in hul hart. Die vure word aangesteek soos gereël, vleis, slaai en broodjies word by die deur afgelewer volgens jou bestelling. Hierdie plek nooi jou uit om jou vakansieplanne te verander en om hier af te saal in die stilte van die Karoo. Die see is nie altyd nodig om te ontstres, ontlaai en te ontlont nie.


















No comments:

Post a Comment