1995 Oos-Europa en Rusland

'n Kort oorsig oor ons interessante reis na vier lande in Oos-Europa en Rusland in 1995

Ek dink vanaand, 22 Junie 2025, terug aan dertig jaar gelede. Verskoon asseblief my geheuereis, maar dis een ding waarin ek glo en dis om herinneringe te bou. Dit was 22 Junie 1995 en ek en Alda was deel van 'n toer na Oos-Europa en Rusland. Hier is 'n paar gedagtes en foto's (van die honderde) om iets oor die reis te vertel.

Vandag is dit niks snaaks dat ons mense oor die hele wêreld werk en reis nie, maar Oos-Europa en die Russiese Federasie was nuwe toeristegebiede vir die meeste Suid-Afrikaners daardie jare. Die Berlynse Muur het op 9 November 1989 geval, en dit het die krane oopgemaak vir ander lande soos Hongarye, Slowakye, Pole, Tsjeggië en die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR). Op 25 Desember 1991 is die hamer-en-sekelvlag van die USSR die laaste keer oor die Kremlin laat sak en die verskillende lande van die USSR het "vry" geraak.

Ek praat onder korreksie, maar die toerorganiseerder het vir ons vertel dat ons onder die eerste duisend Suid-Afrikaners was wat "formeel" as SA-toeriste na bogenoemde lande gereis het. Of dit waar was, weet ek nie, maar dit het vir ons goed gevoel om dit daardie tyd te hoor.

Van Johannesburg met Austrian Airlines na Wene. Van daar 'n kringroete met 'n bus deur Hongarye, Slowakye, Pole, Tsjeggië en toe terug na Wene. Wonderlike dinge belewe.

Daardie jare is papiervliegkaartjies nog gebruik met 'n uitskeurblad vir
elke been van die rit. Hierdie is dan die onderste, oorblywende deel.

Die toeroperateur het vir ons dié handgeskrewe blaai gegee met die
wisselkoerse. Kyk hoe sterk was die rand teenoor die VSA-dollar; R3,67
vir een dollar! Ons het in al die lande gevoel dinge was goedkoop
omdat ons rand nog sterk was. In 2005 was ek in die VSA en toe staan
dit al op R7 per dollar. Waar staan dit vandag? Dit lyk na 'n afdraandpad vir my!

Die dame wat langs Alda staan (tweede van regs) is mevrou Elizabeth
Lakatos. Sy was ons stadsgids in Budapest en het 'n gróót indruk
op my gemaak. Haar gesofistikeerde waardigheid was treffend. Sy
het die opstande van 1956 in Budapest eerstehands as jong vrou
beleef. Soos almal weet, het die Russe dit eenvoudig geweldadig
onderdruk deur tenks in Budapest in te stuur. Vele geboue in
Budapest het nog koeëlmerke gehad wat sy vir ons uitgewys het.
Dit het my laat dink aan wat ek in 1983 gesien het in die dorpie
Santa Clara in Angola; net anderkant die grens van die destydse
Suidwes-Afrika (nou Namibië). Ons was so paar weke in Angola
tydens ons dienspligjare en Santa Clara het die merke van
die burger- en bosoorlog met oorgawe gedra.

Die vele lekker etes en tradisionele musiek, danse en ander optredes
was baie spesiaal in elke land! Wat 'n plesier was dit nie! Hier speel
'n vaardige violis vir Alda romantiese liedjies in haar oor. Ek dink sy
was die mooiste meisie by die ete daardie aand. Interessant - die man
wat regs van Alda gesit het - oom Fred - was 'n mediese dokter
uit Kaapstad. Hy het saam met ons beroemde prof. Chris Barnard gestudeer.
In Krakow in Pole het die stadgids met groot opwinding vir ons na
'n tradisionele ete geneem. Sy wou graag vir ons hierdie "sopbakkies"
laat ervaar. Dit is brode in die vorm van rondawels, en as jy die "dak"
afhaal is die sop daarbinne. Lipaflek-lekker en interessant gewees.
Naby Krakow het ons natuurlik Auschwitz-Birkenau besoek. Hier
is Alda voor die ingangshek waarop die belaglike woorde
"Arbeit macht frei" staan. Dié besoek was 'n hoogtepunt,
maar natuurlik 'n diep en intense emosionele ervaring. Die mens se
brutaliteit van onderdrukking is onbegryplik. Later jare het
P.G. du Plessis sy beroemde boek Fees van die Ongenooides oor
die Anglo Boere-oorlog geskryf, wat ons eie mense se onderdrukking
deur die Britse oorlogsmasjien ervaar het.

Die volgende dag het ons na Moskou gevlieg vir 'n paar dae daar. Die besienswaardighede en ervarings was oorweldigend. Wat alles daar meer spesiaal gemaak het, was die teenwoordigheid van Andrej Ignatenko (андрей игнатенко), ons dierbare vriend wat hier in Suid-Afrika studeer het, baie by ons aan huis gekuier het en ons toe weer daar kon ontvang en rondwys. Wat 'n voorreg. Andrej is 'n paar jaar gelede oorlede en ek het in 2016 'n stuk oor hom op Facebook geskryf. Kliek hier om dit te lees.

Ons sit in Austrian Airlines se vliegtuig net na ons gestop het op
die Sheremetyevo Internasionale Lughawe in Moskou. Ons was
in Rusland! Daardie geheimsinnige, misterieuse land waarvan
ons altyd gehoor het. Die afwagting was baie groot!

Andrej ontvang Alda net buite die doeanegebied
met 'n lieflike bos blomme.

Andrej en sy vrou, Larissa, het ons een aand by hulle woonstel
onthaal. Hulle het dit 'n Russiese Tafel genoem. Dit was uitsonderlik lekker!
Daar was rooiwyn uit die Oekraïne, bier uit Bulgarye en frambose uit die
woude. Voor ons op die tafel is "borsjt", een van die wêreld se klassieke
Russiese soppe wat van beet gemaak word.

Van Moskou is ons met 'n trein na Novgorod vir 'n dag of twee, en toe met 'n bus na St. Petersburg. Soos Moskou ook baie besonders. Oorweldigend! Soveel geskiedenis! Ná die gewone toerprogram elke dag het ons ander vriend, Sergej Merkulov, wat in 1994 by ons in SA gekuier het, ons verder rondgeneem en ander goed gewys as wat ons met die toerprogram gesien het. Soos met Andrej in Moskou, was dit dus weer 'n dubbele plesier.


By Sergej en sy vrou, Olga, het ons in St. Petersburg weer een
aand 'n Russiese Tafel beleef. Weereens was dit uitsonderlik.
Sergej was 'n deeltydse boer buiten sy werk as Engelsonderwyser
daardie tyd en die meeste van die produkte het vanaf sy klein
plasie gekom. Kyk hoe pragtig het Olga hulle woonstel se mure
gemaak. Hulle sonnige kind, Anastasia, toe 12 jaar oud, het lekker
saam gekuier en vir my haar algemene wetenskaphandboeke
gewys. Al kon ek dit nie lees nie, het die strekking van die
kurrikulum bekend vir my gelyk.

En toe 'n verrassing na ons terug was in Suid-Afrika.
Peter Murray, wat ook 'n paar jaar gelede oorlede is,
het 'n kort artikel vir die Vista geskryf oor ons reis. Dit
was 'n groot kompliment dat Vista op dié manier oor
ons berig het. Die foto is op 'n stasie in Moskou geneem
(ek dink dit was Leningradstasie as ek dit verafrikaans)
vanwaar ons na Novgorod vertrek het.

Hierdie soort goed sit 'n perspektief en waardering in mens se lewe en ek is vanaand só ongelooflik dankbaar dat ek en Alda dit kon beleef.